Louis van Rensburg – Ons ou plaashuis

Louis Wilfred Janse Van Rensburg is op 31 Julie 1944 in Johannesburg gebore en het in Crosby groot geword waar hy die Hoërskool D.F. Malan bygewoon het. Hy het reeds as jong seun die harmonika bemeester, hoewel hy op daardie stadium geen aspirasies gehad het om eendag ‘n musikant te word nie. In matriek het hy in die skool se simfonieorkes gespeel en het ook ‘n hoofrol in ‘n operette vertolk. Na skool het hy hom aan die Johannesburgse College of Education as onderwyser bekwaam en het hy in daardie tyd ook die blokfluit leer bespeel. Dit was egter eers nadat ‘n kollege maat vir hom ‘n ou kitaar present gegee het dat hy hom met ywer op musiek begin toespits het. Mettertyd het hy ook die klarinet, saksofoon, banjo, klavier en fluit bemeester.

Louis het formele musiek- en sangonderrig by, onder andere, Jos de Groen, professor Gerrit Bonn, Mario Trinchero en Sarie Lamprecht gekry. Nadat hy begin skoolhou het, het hy saans in koffiekroeë in Hillbrow opgetree en later ook ‘n dansorkes saam met sy skoolmaat, Francois de Necker, gestig. In 1967 het hy die musiek vir ‘n skool operette geskryf en het later ‘n sang oudisie by die SAUK geslaag waarna hy saam met die sopraan Hanna van Niekerk transkripsie-opnames vir die SAUK gemaak het. Dit het daartoe gelei dat hy later ‘n pos by die SAUK aanvaar het as musiek opsteller vir die Afrikaanse Diens. Op hierdie wyse het Louis kennis gemaak met bekende kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en Jannie du Toit, en het hy betrokke geraak by die ontwikkeling en vernuwing van ligte Afrikaanse musiek deur sy eie liedjies te skryf en ook toonsettings te doen van gedigte van, onder andere, Boemeef, N.P. van Wyk Louw en George Weideman.

Nadat hy 12 jaar lank vir die SAUK gewerk het, het hy bedank om ‘n voltydse loopbaan as musikant te volg. Buiten sy optredes as verhoogkunstenaar het hy ook gereeld in televisieprogramme soos “Musiekforum” en “Teletreffers” opgetree, maar dit was as skrywer van klankbaan musiek vir rolprente en televisiereekse dat Louis hom by uitstek onderskei het. Tydens sy loopbaan het hy die tema musiek geskryf vir, onder andere, “Ballade Vir ‘n Enkeling”, “Arende” en “Bosveldwinkel” en sal veral onthou word vir die liedjie Voshaarnooi uit “Ballade Vir ‘n Enkeling”. Wat televisiereekse aan betref het hy ondermeer die musiek geskryf vir “Bart Nel”, “Bosveldhotel”, “Geknelde Land” en “Kinders Van Die Sabbatsee”. Hy het minstens 17 kommersiële albums asook verskeie SAUK transkripsie plate tydens sy loopbaan uitgereik, en het ‘n goue plaat toekenning ontvang vir “Ballade Vir ‘n Enkeling”.

Louis van Rensburg is op 9 September 2012 in die ouderdom van 68 in Johannesburg oorlede.

Hierdie liedjie is in 1980 uitgereik op die album “Bosveldwinkel”. Die A-kant bevat 6 liedjies uit die TV-reeks “Bosveldwinkel” en die B-kant 7 liedjies uit “Van Gister En Eergister”. Hierdie liedjie is uit laasgenoemde.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.