Leslie Reuben Jack Matthews is op 2 Augustus 1931 in Boksburg gebore en het reeds vanaf die ouderdom van 7 as sopraan in die St. Georges Katedraal-koor in Parktown begin sing, hoewel hy sy loopbaan as ‘n ligte bariton voortgesit het nadat sy stem gebreek het. Hy het matriek geskryf aan Kimberley Seuns Hoër, waarna hy by ‘n myn opleidingskool in Johannesburg gaan studeer het as ‘n leerling mynamptenaar. Leslie kon egter nie aanpas by die omstandighede in die myne nie, en het hom daarna bekwaam as verkoopsman van klaviere en orrels by Bothners in Johannesburg, terwyl hy na-ure gesing het as ‘n stokperdjie. In 1960 het hy ernstig aandag begin skenk aan sy musiekloopbaan en het die jaar daarna ingeskryf vir die nasionale S.A. Eisteddfod-talentkompetisie wat in die Johannesburgse stadsaal aangebied is. Hy het ‘n goue medalje verower vir die beste kunslied en ‘n silwer medalje in die ballade afdeling. ‘n Plaaslike teateragent was so beïndruk met sy stem dat hy Leslie dadelik die hoogtepunt van sy weeklikse verskeidenheidsprogram, “Variety Under The Stars” gemaak het. Hy het hierna in verskeie koffiehuis konserte opgetree en ook deelgeneem aan radio talentkompetisies en programme soos “Stars Of Tomorrow”, “Shell Music Hall”, “Hunt For Talent” en “Hammerstein Discoveries”.
Leslie het ook saam met bekende orkeste, soos dié van Neels Steyn, Duffy Ravenscroft, Nico Carstens, Bob Fairweather en Van’s Swing Band begin sing. Tydens een van hierdie optredes het die bekende komponis, George Brevall, hom gehoor, en hom gehelp om sy eerste plaatopname te maak. Op daardie stadium het hy het besluit om sy naam vir verhoog doeleindes te verkort na net Les en om sy ma se nooiensvan, Uys, te gebruik. Les en George het hierna ‘n lang pad saamgestap en het hy heelwat van George se komposisies opgeneem, insluitend “Ek Wens Jou Geluk”, “Kyk Na Die Maan”, “Aspoestertjie” en “Moeder”. Hy het ook verskeie suksesvolle toere deur die Wes-Transvaal, Noord-Kaap en die Vrystaat onderneem om homself aan die publiek bekend te stel.
In 1965 is hy ‘n kontrak aangebied om elke Vrydag- en Saterdagaand by die Bapsfontein Hotel te sing, en het uiteindelik vir meer as 10 jaar saam met sy eie orkes daar opgetree. Later daardie jaar, tydens die Amerikaanse sanger, Slim Whitman, se toer deur Suid-Afrika, het hy ook saam met hom en Virginia Lee die hoof vertoning by dié oord aangebied. In 1964 is sy album “God Seën Jou” benoem vir ‘n Sarie-toekenning in die kategorie “Beste Langspeler van die Jaar”, en die jaar daarna is sy langspeelplaat “Die Wonder Stem Van Leslie Uys” ook benoem.
Les het altesaam tien kommersiële langspeelplate en ‘n hele paar SAUK transkripsie-albums opgeneem, onder meer saam met Leonore Veenemans en George Hayden en sy Orkes. Hy het ook vier snitte vir die TV-program “Ateljee 4” saam met George Hayden opgeneem, het as spesiale gas verskyn in die TV-program “Koffiehuis”, en het verskeie opnames, merendeel in Engels, gemaak onder sy regte naam Les Matthews. Les Uys het in Springs gewoon tot en met sy dood op 22 Julie 1999 in die ouderdom van 67.
Hierdie liedjie is vanaf die album “Ek Wens U Geluk” wat in 1962 vrygestel is.
