Olaf Andresen met Militêre Orkes olv John Imrie – Met vlieënde vaandels (With flying colours)

Hans Olaf Waldemar Rudiger Felix Januarius Andresen is op 14 Januarie 1902 in Berlyn, Duitsland, gebore en het reeds op skool viool begin speel en sy eerste uitvoering gelewer toe hy 14 jaar oud was. Na skool het hy besluit om die wêreld te verken deur op ‘n swerftog te gaan, en het homself in Kalifornië in die VSA as ‘n boekhouer bekwaam. Hy het hierdie beroep ook in Colombië en Venezuela beoefen voordat hy in 1931, tydens die Groot Depressie, na Suid-Afrika verhuis het. Hy was baie beïndruk met Suid-Afrika se struike, die heide, en het ‘n gedig daaroor geskryf. Hy het ook in daardie jare verloof geraak aan Marthel (Martha) Dittrich.

In 1938 het hy in Duitsland besoek afgelê, maar het in April 1939 teruggekeer na Suid-Afrika en het hom in Vryheid gevestig, waar hy versekering verkoop het. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 is Olaf na ‘n interneringskamp by Leeuwkop gestuur, maar het na agt maande met Martha se hulp ontsnap. Hy was 11 maande lank ‘n voortvlugtige en het in hierdie tyd 22 marse vir die Ossewa-Brandwag gekomponeer onder die naam Andries Cilliers. In 1942 het Olaf en Martha oor die grens na die destydse Lourenço Marques in Mosambiek gevlug, maar sy is gedeporteer omdat sy ‘n Suid-Afrikaanse burger was en het drie maande in gevangeskap deurgebring.

Olaf het na die oorlog teruggekeer na Suid-Afrika en is in 1946 met Martha getroud. Hulle het na Johannesburg verhuis en hier het hy sy musiekloopbaan in alle erns hervat. In 1949 het Hendrik Susan hom gevra om liedjies te skryf wat hy kon opvoer tydens die inwyding van die Voortrekkermonument, en Olaf het toe die gediggie oor die heide getoonset en dit aan Hendrik Susan voorgelê as “Die heidelied”. Hy het ook “My hart verlang na die Boland” vir hierdie doel geskryf. “Die heidelied” is as ‘n duet opgeneem deur Hanlie van Niekerk en Jurie Ferreira, saam met die orkes van Hendrik Susan, en was een van die topverkopers in 1949. Hanlie het ook die liedjie in die rolprent, “Hier’s ons weer”, wat in 1950 uitgereik is, gesing, en in 1967 is dit gebruik in die rolprent, “Hoor my lied”, met Gé Korsten en Min Shaw in die hoofrolle.

Olaf Andresen het bykans 400 liedjies in sy loopbaan gekomponeer, insluitend skoolliedere vir ‘n groot aantal skole, en marsmusiek wat gereeld deur, onder andere, die Weermag- en die Polisie-orkeste opgevoer is. Hy het ook drie Afrikaanse operettes geskryf.

Hy is op 11 Desember 1985 in die ouderdom van 83 oorlede.

Hierdie liedjie is vanaf die album “10 Suid-Afrikaanse Marse Insluitend Die Heidelied Deur Olaf Andresen” wat in 1962 uitgereik is, en word uitgevoer deur ‘n Militêre Orkes onder leiding van John Imrie.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.