Geskiedenis 3 Augustus

nuus radioDie vroeë geskiedenis van die Kaapkolonie

Jan van Riebeeck het uit Nederland op 24 Desember 1651 met vyf seilskepe, De Drommedaris (die vlagskip), De Reijger en De Goede Hoop vertrek. Die drie skepe seil Tafelbaai op 6 April 1652 binne en op 8 April gaan Van Riebeeck aan wal. De Walvis en De Oliphant, wat oorspronklik deel van die konvooi sou uitmaak, bereik die Kaap egter eers op 7 Mei 1652.

Nie minder nie as 130 bemanningslede van laasgenoemde twee skepe sterf op see en baie is siek by hulle aankoms aan die Kaap. Alhoewel die eerste Blankes, 90 in totaal, in 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop geland het, het hulle nie hierheen gekom as setlaars nie. Hulle was Nederlanders wat ‘n verversingstasie vir hulle skepe wat na en vanaf die Ooste reis, kom vestig het.Kaapstad 2003 Die VOC het nie in die Kolonilisering van die Kaap belang gestel nie, maar dit het gou duidelik geword dat die amptenary nie die boerdery op ‘n groot genoeg skaal sou kon behartig nie.

Na aanleiding van Van Riebeeck se vertoë, stem die Here XVII op 30 Oktober 1655 in dat vryburgers toegelaat word om op sekere voorwaardes te boer. Die belangrikste hiervan was dat hulle hul produkte teen vasgestelde pryse aan die VOC moes verkoop. Van Riebeeck het geskikte amptenare aangemoedig om vryburgers te word en in Februarie 1657 is die eerste vrybriewe uitgereik aan nege wat die voorwaardes aanvaar het. Ten ooste vandie Amstel Rivier (later die Liesbeeck) is die nedersetting ‘t Groene Velt en aan die westekant De Hollantsen Thuijn uitgelê. Vyf vryburgers is in ‘t Groene Velt (ook as Harman’s Kolonie bekend) en vier in De Hollantsen Thuijn (bekend as Steven’s Kolonie) gevestig. Die groep by ‘t Groene Velt sou hoofsaaklik graan verbou terwyl dié by De Hollantsen Thuijn hulle op graan en vrugte sou toespits. Albei groepe moes ook met beeste, varke, ganse, eende en hoenders boer.

1 Die term “Boer” was deur Goeweneur van der Stel in 1707 gebruik as hy na sy vyande in die boerdery gemeenskap verwys het. Bron: History of South Africa, p10 deur WJ de Kock, uitgegee deur die Departement van Inligting in 1971.

Die arbeidstekort het egter voortgeduur en na oorweging van verskeie voorstelle, word die eerste groep van 174 slawe op 28 Maart 1658 aan boord die Amersfoort ingevoer. Op 6 Mei 1658 kom ‘n verdere groep van 228 slawe met die Hasselt in die Kaap aan. Na ‘n verblyf van ongeveer tien jaar vertrek Van Riebeeck en sy gesin op 7 Mei 1662 na die Ooste waar hy sy diens by die VOC in Malakka, Maleisië, (tans Melaka), Maleia en Batavia, tans Djakarta, Indonesië voortgesit het. Zacharias Wagenaar het op 6 Mei die bewind aan dieKaap by Van Riebeeck oorgeneem. Jan van Riebeeck is op 18 Januarie 1677 op 58 jarige ouderdom in Batavia oorlede.

Nadat die verversingstasie aan die Kaap gevestig is, was dit egter ‘n ander groep Europeërs wat ‘n kern van ware setlaars in die Kaap gevorm het. Hulle het met ander woorde gekom met die doel om aan die Kaap te vestig. Hierdie setlaars is afkomstig van verskeie Europese lande soos Duitsland en Frankryk en ‘n paar ander lande. Baie van hierdie mense was Protestante en het as vlugtelinge weens godsdiensvervolgings in Suid-Afrika aangekom. Die meeste kom uit Frankryk asook die weste van Duitsland, en die laaglande van die provinsie Holland in Nederland weens die Rooms-Katolieke vervolgings in daardie tye. Hierdie golf van Protestanse immigrasie het gelei tot die vestiging van ‘n sterk Protestantse geloof in Suid-Afrika en tot die einde van 21 ste eeu die oorheersende Christelike geloofsoortuiging in Suider-Afrika.

Met die uitbreek van die oorlog tussen Nederland en Engeland, verander die VOC sy beleid ten opsigte van die Kaap. Vanweë die Kaap se strategiese belangrikheid op die handelsroete na Indië word besluit om die nedersetting se verdediging op te knap. Die Kasteel, ‘n fort, wat deur Wagenaar herbou en vergroot is, word voltooi en die garnisoen aansienlik versterk. Die ekstra uitgawe noop egter die Here XVII om die burgerbevolking te probeer vermeerder om sodoende die garnisoen te verklein – dit kon ‘n groot besparing beteken. Daar was egter weinig rede vir Nederlanders om hulle welvarende land te verlaat en immigrasie na die Kaap het baie stadig plaasgevind. ‘n Aantal Duitsers het oor die jare aan die Kaap gevestig – sommige as soldate – en teen die einde van die 17de eeu was tussen een-sesde en een-vyfde van die Kaapse koloniste van Duitse afkoms. Van Riebeeck is deur ‘n aantal kommandeurs opgevolg wat vir kort termyne aan die Kaap gedien het en nie veel tot die nedersetting se ontwikkeling kon bydra nie. Die koms van Simon van der Stel in 1679 het ‘n nuwe tydvak ingelui waartydens die kolonie aansienlike groeiondervind het. Sy vlytigheid word in 1685 beloon toe die VOC aan hom ‘n groot plaas skenk, Constantia, en hom in 1691 bevorder na Goewerneur van die Kaap.

Toe Simon van der Stel diens aanvaar aan die Kaap, bestaan die nedersetting uit ‘n aantal plase aan die voet van Tafelberg, die Kompanjiesposte by Saldanhabaai, Hottentots-Holland en Tygerberg en ‘n paar verspreide opstalle van boere wat tydelik in die binneland gevestig was. Slegs sowat 22 burgergesinne lê hulle ernstig op akkerbou toe. Van der Stel vestig nuwe nedersettings by Stellenbosch en Drakenstein. Waar veeboerdery aanvanklik ‘n bybedryf aan die Kaapkolonie was, het vryburgers om verskeie redes hulle meer en meer op veeboerdery begin toespits. Vanweë ‘n oorproduksie het dit, veral na 1700, steeds moeiliker geword om ‘n afset vir wyn en graan te vind terwyl veeboerdery ‘n gunstiger toekoms gehad het. Dit was ook goedkoper om ‘n veeboerdery te begin. Simon van der Stel se seun, Wilhem Adriaen van der Stel, wat sy pa in 1699 as goewerneur opgevolg het, het anders as sy pa, veeboerdery aangemoedig. Na klagtes deur die vryburgers oor Wilhem Adriaen van der Stel en ander amptenare se privaatboerdery en verwaarlosing van hulle pligte, word hy en sy medebeskuldigdes in 1707 deur die VOC ontslaan en na Nederland teruggestuur.

Veeboere, later as trekboere bekend, het weggetrek van die Kaap op soek na goeie weivelde. Namate veetroppe in getalle toegeneem het en die bestaande weivelde uitgeput geraak het, het boere al verder van die bewoonde gebiede getrek. Die bewind aan die Kaap het dié uitbreiding probeer stuit deur grense te bepaal, maar dit het nie geslaag nie.

Nuwe landdrosdistrikte is geproklameer, byvoorbeeld Swellendam in 1745 en Graaff-Reinet in 1786, wat dui op die VOC se onvermoë om die beweging te keer. Die veeboere het op ‘n vroeë stadium met die Boesmans (Khoisan) begin bots. Dié nomadiese volk het nie geplant of vee aangehou nie, maar hoofsaaklik van wild gelewe wat hulle met hulle boë en gifpyle platgetrek het. Hulle het veeboere se plase aangeval, boere en veewagters vermoor, plaashuise afgebrand en vee geroof of vernietig. Die eerste burgerkommando is in 1715 op die been gebring om die Boesmans te stuit en in 1739 word kommandodiens verpligtend. Daar is voortdurend vergeldigingstogte teen die Boesmans geloods. Hierdie konflik het gelei tot onenigheid met die Xhosas en die Hottentotte. Die laaste dertig jaar van die 1700s word deur ‘n bloedige guerilla-oorlog vol haat en bitterheid gekenmerk. Jagters, handelaars en trekboere het reeds omstreeks 1702 met die Xhosa in die oostelike gebiede kennis gemaak. Gedurende die 1770s begin die trekboere en die Xhosa meeding om weiding in die Suurveld wes van die Visrivier. Goewerneur Van Plettenberg besoek die oosgrens, sedert 1771 was dit die Gamtoosrivier, en poog deur samesprekings met die Xhosa om die Visrivier as grens tussen die VOC se gebied en dié van die Xhosa te vestig. Alhoewel ‘n paar hoofmanne hiertoe instem, steur die meeste van die Xhosa hulle nie aan die ooreenkoms nie.

Verhoudinge tussen die trekboere en die Xhosa versleg vinnig en in 1779 breek ‘n grensoorlog uit. Die Xhosas roof baie vee en strafkommando’s tree in 1779 en 1780 teen hulle op. Die VOC benoem die boer Adriaan van Jaarsveld tot kommandant aan die oosgrens, met die opdrag om die Xhosa uit die Suurveld te verdryf. Sy kommando, bestaande uit boere en Khoikhoi voer die opdrag uit en konfiskeer vee van die Xhosa. Die onrus en plundertogte duur voort en die burgers raak bitter ontevrede met die landdros, Honoratus Maynier, se hantering van die grensprobleme. Hy rapporteer in 1794 aan die Politieke Raad dat die gerugte oor Xhosa-strooptogte die gevolg is van die burgers se begeerte om die Xhosa aan te val om hulle eie veegetalle aan te vul. Op 4 Februarie 1795 ruk burgerleiers, onder andere Marthinus Prinsloo, op na Graaff-Reinet en dwing Maynier om die distrik te verlaat, en ‘n waarnemende regering word aangestel. Dieselfde lot tref die landdros van Swellendam, Anthonie Faure, toe ‘n sestigtal burgers op 17 en 18 Junie 1795 onder leiding van Swellendam, Anthonie Faure, toe ‘n sestigtal burgers op 17 en 18 Junie 1795 onder leiding van Petrus Delport die drosdy beset en hom en sy ondersteuners hulle ampte laat neerlê. Op dié wyse kom die Colonie van Graaff-Reinet en die Colonie van Swellendam tot stand. Hoewel die Kompanje se seggenskap afgeskud word, erken die kolonies egter die vrye Republiek van Nederland. Gedurende die 1700s werk verskeie faktore mee tot die verswakking van Nederland se onafhanklike en welvarende posisie: Die Nederelandse vloot se heerskappy op die handelsroetes kom tot ‘n einde. Engeland en Frankryk se invloed brei uit en hulle word doeltreffende mededingers op handelsgebied.

Tydens die Vierde Anglo-Nederlandse Oorlog (1780 tot 1784) dien Engeland die Nederlandse vloot ‘n vernietigende nederlaag toe.

 

Foto van Jan se aankoms met skepe op die agtergrond

BO: ‘n Voorstelling van die landing van
die Van Riebeeck-geselskap op
6 April 1652 aan die Kaap. Die drie skepe in die vloot van vyf wat Tafelbaai eerste binnegevaar het,  lê op die agtergrond voor anker.
Jan van Riebeeck,
die vol lewe van die gekultiveerde pionier wat die witman na die suidpunt van Afrika gelei het

Jan Van Riebeek

Onse Jan— die onwillige volksplanter

Die Kaap? Nee, dankie. As hy langer as ’n jaar hier bly, sal dit te lank wees, was sy oorwoë mening. Maar toe bly hy tien jaar in die verversingspos wat hy kom stig het… en besef nie hoe hy later as ’n volksplanter gehuldig sou word en hoe ’n hele land mettertyd uit sy beskeie pionierswerk sou groei nie…

Hy was ’n ambisieuse pionier en, welbeskou, ook die “vader” van die Afrikanervolk. Maar Jan van Riebeeck sou destyds beslis nie aan homself as ’n volksplanter gedink het wat selfs eeue later nog opgehemel sou word nie.

 Foto 2 jvr

BO: Jan van Riebeeck,  die eerste kommandeur aan die Kaap, wat van 6 April 1652 tot sy vertrek op 1 Mei 1662 die eerste blanke nedersetting in Suid-Afrika gegrondves het. Daar is historici wat reken dat dit die eintlike beeltenis van Van Riebeeck is en nie die een HIERONDER nie, waarop ook die gesig gegrond is wat vroeër op ons banknote verskyn het (HEEL ONDER).
Jvr3

Wat meer sê, onse Jan wou met mening uit die Kaap uit wegkom nadat hy hier aangekom het. Hy het ander ideale gehad en wou liewer elders vir hom naam te maak—weg van die woeste, ongetemde Afrika met sy daaglikse worstelstryde en probleme.

Maar toe hy ná tien jaar die Kaap verlaat, was Van Riebeeck met reg trots op wat hy deur die Here se genade aan die suidpunt van Afrika vermag het. Sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis sal dan ook nooit verdoesel of gering geskat kan word nie. .

 Jeugjare

JOHAN ANTHONISZOON (JAN) VAN RIEBEECK is op 21 April 1619 in Colemburg, Nederland, gebore (en op 18 Januarie 1677 in Batavia in die Ooste oorlede).

Bronne verskil egter oor sekere aspekte van Jan se jeug en Schiedam word ook as sy geboorteplek aangegee. Dit lyk nietemin asof die gesin na Schiedam verhuis het toe Jan drie jaar oud was. Hy het wel sy ma verloor toe hy tien was en is in die huis van sy oupa in Culemborg opgevoed. Culemborg is ’n stil, skilderagtige stad naby Utrecht aan die rivier Lek. 

Die gekultiveerde Jan het uit deftige en vooraanstaande families gestam. Sy pa, Anthonij van Riebeeck, was ’n waaghalsige skeepskaptein, wat sy eie skip besit het en dikwels op sy seereise weg van die huis was. Sy ma se pa—en Jan se streng maar innemende voog en vriend—was Govert Anthoniszoon van Gaesbeeck, ’n prokureur en notaris en die gewilde en ryk burgemeester van Culemborg,

Sy oupa het gesorg dat hy ’n goeie opvoeding kry en geleerd kom, en toe Jan die skool verlaat, het hy besluit om ’n chirurgyn (of skeepsdokter, ’n semi-gekwalifiseerde geneesheer) te word. Om te kwalifiseer vir hierdie beroep van destyds, moes hy drie jaar by ’n vakman in die geneeskunde in Amsterdam werk.

 Voort na die Ooste

NÁ die voltooing van sy opleiding het Jan hom tot die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie gewend vir werk. Die Kompanjie was ’n groot en magtige Nederlandse maatskappy, wat die handel met die Ooste en dus die skeepvaart om die suidpunt van Afrika tussen Nederland en Oos-Indië beheer het—met Batavia op die eiland Java (Suid-Indonesië) as die Oosterse hoofkwartier.

Jan het die aanstelling van onderchirurgyn gekry op die skip Hof van Holland, wat in 1639 na die Ooste uitgevaar het. Drie maande later ly die skip egter skipbreuk by Sierra Leone aan die Afrika-kus, maar die bemanning kom gelukkig veilig aan land, terwyl ’n groot deel van die vrag ook gered kan word.

Maar groot ontberings wag op die skipbreukelinge. Eers ná meer as ses maande kom daar vir hulle uitkoms by hierdie ongesonde, warm kus. Jan en sy makkers word deur die skip Sutphen opgepik. Hulle bereik Batavia eers ’n jaar en drie maande nadat hulle Nederland verlaat het.

In die Verre Ooste bly die vooruitstrewende jong Van Riebeeck nie lank in die beroep waarvoor hy opgelei is nie. Hy kom agter dat daar vir hom groter kanse is om bevorder te word as hy hom in die handel begewe. Kort voor lank is hy ’n klerk in die kantoor van die Kompanjie in Batavia, waar hy hom so knap van sy taak kwyt dat hy in 1642 aangewys word as sekretaris van ’n afvaardiging wat na die luisterryke hof van die koningin van Atjeh (op die eiland Soematra) gestuur word. Daarna word hy bevorder tot onderkoopman in Japan. 

In 1645 word hy waarnemende opperhoof en in 1646 koopman en sekunde in Tonkin (vandag in die noorde van Viëtnam). Almaardeur bewys hy sy vermoëns en maak hy groot indruk. Hy leer die moeilike Tonkinese taal en handhaaf die beste moontlike betrekkinge met die geslepe en gierige vors van Tonkin. Boonop dryf hy selfs snags handel in kaneel en binne ’n paar jaar sorg hy dat die Kompanjie groot winste uit sy transaksies maak.

’n Mens sou dink dat só ’n knap amptenaar die blinkste toekoms in die Kompanjie tegemoet sou gaan. Maar die Kompanjie was allermins vrygewig met sy geld en het sy amptenare bedroewend min betaal. Soos baie ander amptenare voor en ná hom het Van Riebeeck dan ook tersyde sy inkomste met private handel probeer aanvul. Dit lei tot sy ondergang. 

Eindelik het die Kompanjie ingegryp om die private handeldrywery stop te sit, en Van Riebeeck moes dit ontgeld, ofskoon die meeste van die ander amptenare die afrekening vrygespring het. ’n Bitter teleurgestelde Jan is teruggeroep na Nederland, met al sy ambisies aan skerwe om groot opgang in die Kompanjie te maak.

 Maria van Riebeek
BO: Maria van Riebeeck, née de la Queillerie.

Terug in sy vaderland lyk alles egter darem nie vir hom swartgallig nie. Hy maak kennis met Maria de la Queillerie (1629-’64) en in Maart 1649 staan hy met sy negentienjarige bruid voor die kansel in sy jeugplek Schiedam. Die sagmoedige maar volhardende en diep godsdienstige Maria was van Hugenote-afkoms (haar oupa het uit Frankryk gevlug). Sy sou vir Jan die lewe aan nege kinders skenk voordat sy op ’n jeugdige sowat 35 jaar oorlede is.

Hul eerste seun, Anthonij, word op 13 Maart 1650 gebore. Dié seuntjie sterf egter op 9 September 1651, kort ná die geboorte van hul tweede seun, Lambertus.

Jan kry ook weer werk, hoewel by ’n ander handelsmaatskappy, vir wie hy enige maande ná sy troue na Groenland en toe weer na Wes-Indië uitvaar. Maar uiteindelik besluit die Kompanjie om hom weer ’n kans te gee—en watter kans is dit nie!

Jan word naamlik aangestel as kommandeur van ’n verversingspos vir verbygaande skepe wat die Kompanjie op die roete na die Ooste aan die Kaap wil aanlê.

 Die Kaapse avontuur

OP 24 Desember 1651, die dag voor Kersfees, vertrek Jan van Riebeeck met sy Maria, hul vier maande oue seuntjie Lambertus en sy niggies Sebastiana en Elizabeth van Opdorp met die skip dieDrommedaris uit Texel na die Kaap. Die skepe Reyger en Goede Hoophet gelyktydig vertrek; die Oliphant en Walvis het later gevolg.

REGS: Die landing van Van Riebeeck aan die Kaap en die ontmoeting met die Khoikhoi, volgens die skildery van Charles Bell.

SA BIBLIOTEEK

 jvr ontmoeting met Koi-Koi

Ná ’n betreklik voorspoedige reis vaar Van Riebeeck Tafelbaai op Saterdag 6 April 1652 met sowat negentig man binne—en begin reeds op die Maandag met sy stigterswerk. Hy laat nie gras onder sy voete groei nie en wil sy take na sy beste vermoë afhandel, want sy kop staan eintlik na die Ooste toe waar hy bevordering kan gaan soek.

Van Riebeeck hoop om nie langer as ’n jaar in die Kaap te vertoef nie. Soos dit sou blyk, sou hy tien jaar lank hier swoeg—om nie slegs ’n verversingspos nie, maar uiteindelik ’n kolonie in Suid-Afrika te vestig.

Van die begin af is daar egter probleme. Die hout waarvan die eerste plankhutjies gebou moet word wat as woonkwartiere moet dien, is onder in die skepe gelaai. Die gevolg is dat Maria, die Opdorp-vroue en Annetjie Boom, die vrou van die baas-tuinier, in die eerste twee weke op die skepe moet bly wat in die tierende suidooster in Tafelbaai ronddobber.

Die nat Kaapse winter wat hierop volg, bring verdere ontberings. Die skamele huisies is nie bestand teen die reënweer nie en die water stroom daarin sodat alles nat word en die kos bederf. Die manne word siek en party sterf selfs. Ook Maria word siek.

Tog word kliphard gespook om ’n fort te bou en ná ’n paar maande kan die Van Riebeecks—en ’n Khoikhoi-meisie genaamd Eva, wat nou al ’n deel van die gesin word het—’n klipgebou met ’n plat dak binne in die walle van die fort betrek.

Maria het darem nou ’n eie slaapkamer en kinderkamer, maar nog geen huislike vryheid in die ware sin van die woord nie, want daar word steeds saam met die bemanning en amptenare in ’n gemeenskaplike eetsaal geëet.

Tog verbeter die toestande mettertyd, hoewel dit steeds nie aldag maklik gaan nie. Daarvan kan baie gelees word in Van Riebeeck se dagregister—’n uiters waardevolle geskrif oor die wel en wee van die eerste gevestigde Europeërs aan die Kaap.

Die verversingspos was nie bedoel om verder as die Tafelbaaise gebied te strek nie en Van Riebeeck se opdragte was om die Kaapse nedersetting so klein as moontlik te hou. Vee is darem van die Khoikhoi geruil, maar sy hoofprobleem was om werkers te vind op die plase wat aangelê is, aangesien die inheemse Khoikhoi en San nie in dié soort werk belang gestel het nie. Van Riebeeck het voorgestel dat slawe ingevoer word, en uiteindelik het slawerny sy beslag in die Kaap gekry.

Nog ’n manier waarop hy die arbeidersprobleem aanpak, is om amptenare van hul diens aan die Kompanjie vry te stel sodat hulle as sogenaamde vryburgers kan boer—waardeur hy inderdaad die klas van onafhanklike boere skep wat later in die Boere of Afrikaners sal ontwikkel.

Nog twee seuns, Abraham (1653) en die tweede Anthonij (1655), wat ook baie jonk sterf, en drie dogters, Maria (1657), Elizabeth (1659) en Joanna (1662), word vir Jan en Maria van Riebeeck aan die Kaap gebore. Die twee oorblywende seuns, Lambertus en Abraham, word vir hul opvoeding na Nederland gestuur. (Abraham sou later in die Kompanjiesdiens tot die hoë pos van Goewerneur-generaal van Nederlands-Oos-Indië vorder.) Die drie dogters kom in Julie 1662 saam met hul ouers in Batavia aan.

Batavia? Ja, uiteindelik word Jan van Riebeeck, die onwillige kommandeur, verlos van die Kaapse worstelinge wanneer hy, Maria en die dogters op die skip Mars na die Ooste vertrek. Jan is verlig, maar darem ook trots op wat hy “met God de voorste” in sy dekade aan die Kaap tot stand gebring het.

Want by sy vertrek spog die jong Kaapse nedersetting reeds met onder meer ’n hospitaal, verskeie werkwinkels, ’n meule, ’n graanskuur, huise, stalle vir perde, beeste en skape, en groente- en vrugtetuine. Daar is ook ’n hawehoof, wat dit vir skeepspassasiers moontlik maak om regstreeks aan land te stap.

REGS: Die kasteel in ou Kaapstad wat die fort vervang het wat Van Riebeeck gebou het. Die kasteel staan vandag steeds.  Kasteel

 Weer in die Ooste

IN Batavia word Van Riebeeck eers lid van die geregshof en kort daarna kommandeur en president van Malakka, aan die suidkus van die Maleise Skiereiland (in die teenswoordige Maleisië). In 1663 word die vierde Van Riebeeck-dogtertjie, Antonia, gebore. Maar Malakka bring nie werklik vir Jan geluk nie.

In 1664, ’n week ná die geboorte van ’n vyfde seuntjie wat maar enkele ure gelewe het, sterf sy geliefde Maria en staan ’n verpletterde Jan langs haar graf in Malakka. Van Riebeeck vra om te mag teruggaan Nederland toe en sy versoek word toegestaan. Maar hy sou nie weer sy vaderland sien nie. Op sy terugreis doen hy Batavia aan waar hy ‘n nuwe, gesogte pos kry.

Hy word naamlik in Batavia as sekretaris van die Goewerneur-generaal en Rade van Indië aangestel, die hoogste regerende liggaam in die Ooste. Met hierdie aanstelling beklee hy een van die eervolste ampte in diens van die Kompanjie.

Op 10 Maart 1667 trou Jan weer—met Maria Scipio—en uit hierdie huwelik word in Januarie 1670 nog een seun, Joan van Riebeeck, gebore. Sy kinders by sy eerste Maria het ook weer ’n huis. Maar nou verswak sy gesondheid geleidelik. Ná twaalf jaar as sekretaris word Jan in Januarie 1677 in Batavia na sy graf gedra.

Aan die Kaap word letterlik so in die verbygaan van Van Riebeeck se dood gehoor. Hier gaan die lewe en die ontwikkelinge voort en word gestadig en doelgerig voortgebou op die fondamente van die stigter. Ook die verskillende tongvalle wat aan die Kaap gepraat word, en wat nog tot Afrikaans sou ontwikkel, slyp mekaar reeds in hierdie vroeë stadium om al hoe meer ’n eensoortige en eie karakter te begin aanneem.

En vandag staan die standbeelde van Jan van Riebeeck en sy eerste Maria langs mekaar in Adderleystraat in Kaapstad—met hul rûe na die see gekeer en turend na ou Tafelberg. Dit laat almal onthou dat hierdie ondernemende pionierspaar meer as drie en ’n halwe eeu gelede onder dié einste berg hul onuitwisbare spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het.

Soos die ou moppie lui: Ons sê dankie, Jan van Riebeeck…

Voordele van Van Riebeeck
se koms na die Kaap

•    Die Westerse beskawing, met al sy onteenseglike voordele, word aan die suidpunt van Afrika gevestig. Plaaslike kulture soos dié van die Khoikhoi en die San was feitlik nog in die Steentyd gevestig, terwyl Europeërs al eeue tevore ’n gesofistikeerde kultuur en skriftradisie gehad het wat ná die Middeleeue met die herlewing van geleerdheid tot nuwe hoogtes ontwikkel het.

•   Van Riebeeck bring ook die Westerse argitektuur na die Kaap. Weliswaar was die eerste huisies wat hy hier laat bou het skamele struktuurtjies van plank, maar spoedig verrys ’n fort waarin hy en sy gesin ná slegs ’n paar maande in ’n klipgebou met ’n platdak kan gaan woon. Toe Van Riebeeck die Kaap ná tien jaar verlaat, sluit die geboue al selfs ’n hospitaal, verskeie werkwinkels en ’n meule in. Plaaslike bouwerke van die Khoikhoi was nie veel verder ontwikkel as ’n soort byekorf-hut wat van grasmatte gemaak is nie.

•    Met die plant van verskillende gewasse word ook totaal nuwe rigtings in die landbou ingevoer (die Khoikhoi was nomadiese veeboere wat bloot agter weidings aan getrek het). Deur amptenare van hul diens aan die Kompanjie vry te stel sodat hulle as sogenaamde vryburgers kan boer, skep Van Riebeeck die klas van onafhanklike boere wat later in die Boere of Afrikaners sou ontwikkel.

•    Afrika in die Suide weet nog prakties niks van die Christendom toe Van Riebeeck hier voet aan wal sit nie. Heidense natuurgelowe kom voor by al die inheemse volkere. Sy koms is die begin van ’n religieuse verandering, ’n verchristeliking of kerstening  wat met verloop van tyd nie net oor Suidelike Afrika nie, maar oor die hele Afrika suid van die Sahara sou spoel.

•    Gesondheidsorg  (soos bewys deur die oprigting van ’n hospitaal) bereik met Van Riebeeck se koms ’n dimensie wat ongekend is onder die inheemse volkere. Dit is maar nog net een van die legio voordele wat meegebring is deur die besluit van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie om hom na die Kaap te laat kom.

Nadele van Van Riebeeck se koms

•    Teenoor al die voordele wat aan die Westerse lewenswyse toegeskryf word, is daar natuurlik ook die nadele. Te veel voorspoed kweek allerhande slegte gewoontes, gesindhede, gebruike en handelinge. Die plaaslike volkere het ’n ewige bestaanstryd naby aan die natuur gevoer. Van Riebeeck se koms het ’n invloei van immigrante tot gevolg gehad, mense met eienskappe van byvoorbeeld ook meerderwaardigheid en hoogheidswaan wat ongelukkig nie altyd sou strook met die Christelike beginsels wat hulle gepredik het nie. Hierdie benadering sou, volgens ’n sekere waarneming, uitgekring het tot ’n rasseverhouding in latere geslagte wat tot onnoemlike wrywings en ellende sou lei.

•    Dat die Kaap vanweë Van Riebeeck se bemoeiing aandadig sou wees aan die benutting van slawe, moet in die lig van die vandag se aanvaarde norme eweneens as ’n nadeel aangemerk word. In sy tyd, en wel in Maart 1658, het slawerny sy eintlike beslag aan die Kaap gekry het met die aankoms van ’n besending slawe op die skip Amersfoort. Van Riebeeck het slawe bo inheemse werkers verkies.

•     Die koms van Van Riebeek, as verteenwoordiger van die witman, beteken ook dat siektes van die Weste na Afrika gebring en hier losgelaat is onder plaaslike mense wat absoluut geen immuniteit daarteen gehad het nie. Só lei verskillende uitbrake van die gevreesde pokke in die volgende eeu of wat tot soveel sterftes onder die Khoikhoi dat hulle weens hul verwoeste kultuur as ’n volk ophou bestaan.  Hulle word in die sogenaamde Kleurlingbevolking geassimileer.

•     Die plantelewe aan die Kaap sou ook noodwendig moet gely het onder die koms van Van Riebeeck. Bestaande vlei- of boslande sou moes plek maak vir woonhuise en ander geboue, terwyl bome uitgekap is vir timmer- en brandhout. Hout is uit die gebied by Houtbaai in die Skiereiland na die Kaap aangebring om in die behoefte aan konstruksiehout te voorsien.

•     Daarmee saam sou die dierelewe ook verskraal. Menslike bedrywighede is selde omgewingsvriendelik, maar waar jagters met gewere boonop baie meer diere plattrek as wat hulle vir die pot nodig het, volg ekologiese rampe. Die feit dat daar eenmaal hordes wild op die Suid-Afrikaanse velde was, maar dat hulle vandag dikwels tot natuurtuine, wildplase en dieretuine beperk is, spreek boekdele. Dink ook aan die kwagga, ’n subspesie van die vlaktesebra, wat iets meer as twee eeue ná Van Riebeek se koms totaal uitgesterf het.


 

(Visited 75 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator: SAUK TV

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.