Gerhardus Petrus Potgieter is op 14 November 1929 te Watervallandgoed in Johannesburg gebore (deesdae staan dit bekend as Northcliff). Hy het reeds op skool formele sangopleiding ontvang en het met groot sukses die rol van Mordechai in Handel se Esther vertolk. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het aan Helpmekaar Hoërskool, het hy by Die Transvaler koerant begin werk as ‘n lettersetter, terwyl hy ook sanguitvoerings oor die radio gegee en aan Eisteddfods deelgeneem het. Hy het ook sy sangopleiding voortgesit, en het later die hooftenoor geword van die gewilde sanggroep, Die Silwerharmoniste, wat gereeld oor die radio opgetree het.
Sy eerste solo-uitvoering oor die radio was in die operette Op Die Purper Heide, en sy eerste openbare optrede was in November 1949 in die kantate Vasco de Gama. Hy het hierna gereeld oor die radio en op die verhoog opgetree in ‘n groot aantal operas, operettes en oratoriums, en in die laat 1950s het hy ook saam met OPSA, die Opera Federasie van Suid-Afrika, deur die land getoer en hoogtepunte uit operas in verskeie dorpe en stede opgevoer. In 1959 het hy nie net sy eerste solo langspeelplaat, ‘n Lied Uit Die Hart, vrygestel nie, maar was ook die eerste kunstenaar aan wie die Mimi Coertse Beurs toegestaan is. Dit het hom die geleentheid gebied om in Wene te studeer waar hy klasse in opera aan die Staats Akademie en onderrig van Maria Hittorf ontvang het. Van haar ander Suid-Afrikaanse studente was Mimi Coertse en Leonore Veenemans. Ondanks verskeie aanbiedinge van verdere beurse, en selfs ‘n opera-kontrak, het hy in 1962 teruggekeer na Suid-Afrika.
Hy het aanvanklik saam met OPSA opgetree, maar het later ook opvoerings gedoen saam met KRUIK en TRUK. In 1967 het hy ‘n kontrak met die Teal Platemaatskappy onderteken en het hy in daardie jaar sy tweede solo-langspeelplaat, Serenade, uitgereik. In 1970 het hy sy buiging as rolprentakteur gemaak in twee rolprente, Lied In My Hart (saam met Gé Korsten en Min Shaw) en Forgotten Summer (saam met Marie du Toit en George Ballot). Die jaar daarna het hy sy eerste volledige Engelse langspeelplaat, The Song Of My Life, uitgereik, wat dan ook sy enigste SA Top 20 liedjie opgelewer het. Sweet Maria het in 1971 die #13 posisie bereik en was vir 8 weke op die treffersparade.
Op 2 Julie 1977, op pad terug van ‘n troue op Ventersdorp waar hy gesing het, is hy in ‘n kop-aan-kop botsing by Tarlton naby Krugersdorp oorlede. Hy was slegs 47 jaar oud.
Hierdie liedjie is in 1975 op solus sewe uitgereik.
