Gé Korsten – D.T.A.- lied

Gerard Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland, gebore, en was 7 jaar oud toe sy gesin na Suid-Afrika geëmigreer en hulle in Johannesburg gevestig het. Sy pa was ‘n boukontrakteur en derhalwe het Gé hom na skool as ‘n elektrisiën gekwalifiseer, hoewel hy vanaf die ouderdom van 20 in kore en kwartette vir die SAUK begin gesing het. In 1952 het hy met sangstudie aan die SA Musiek Kollege in Kaapstad begin, en nadat hy in 1955 na Johannesburg verhuis het, het hy sy studies voortgesit by Albrecht Lewald en later daardie jaar een van die stigterslede van die Pretoriase Opera Groep geword. Vanaf 1958 het hy by Nellie du Toit sanglesse begin neem, en in later jare ook verskeie langspeelplate saam met haar opgeneem.

Gé het in hierdie tyd verskeie operarolle teenoor bekende sangeresse begin vertolk, onder andere Hanlie van Niekerk, Mimi Coertse, Leonore Veenemans en Susanne Davies. In 1963 is hy oorsee waar hy verder studeer het in Oostenryk, Duitsland en Italië, en met sy terugkeer na Suid-Afrika ‘n jaar later was hy in aanvraag as operasanger en het hy gereeld as hooftenoor in verskillende operas, operettes, musiekblyspele en oratoriums vir Truk, Kruik, Naruk en Sukovs opgetree. Tot op daardie stadium het hy sy eie elektrisiteit onderneming gehad en was ‘n baie suksesvolle sakeman, maar het in 1971 besluit om die besigheid te verkoop en hom toe te spits op sy sangloopbaan.

Gé was baie gewild regoor Suid-Afrika en het bykans altyd vol sale getrek waar hy ook al opgetree het. So het hy byvoorbeeld In 1968 binne 2 maande in 89 konserte gesing. Sy plaatopnames was ewe gewild, en tot en met 1996 het hy 57 albums vrygestel waarvan sowat 20 Engelse uitreikings was. Sy eerste langspeelplaat, Gé Korsten Sing Uit Die Hart is reeds in 1965 vrygestel, maar sy groot deurbraak het die jaar daarna gekom toe hy die langspeelplaat Gé Korsten Sing Erika vrygestel het.

Tydens sy loopbaan het Gé in verskeie rolprente opgetree, insluitend “Kruger Miljoene” (1967), “Hoor My Lied” (1967), “Lied In My Hart” (1970) en “Lokval In Venesië” (1972), en het hy gereeld op televisie verskyn en selfs sy eie program, “Gé Sing”, aangebied. Hy het ook ‘n rol vertolk in die sepie “Egoli”. Hy het ‘n groot aantal toekennings ontvang, onder andere die Orde van Voortreflike Diens van die Staatspresident in 1988, ses Sarie-toekennings en ‘n Artes-trofee vir die gewildste televisie persoonlikheid in 1978. Teen die einde van sy loopbaan het hy en Rina Hugo ‘n baie gedugte duet paar geword wat baie gewild was onder die publiek en saam verskeie albums uitgereik het.

Gé Korsten het in Januarie 1997 amptelik afgetree en hom in die Wildernis gevestig waar hy op 29 September 1999 in die ouderdom van 71 oorlede is.

Hierdie liedjie is in 1978 op solus sewe uitgereik. Die D.T.A. (Democratic Turnhalle Alliance) is ‘n politieke party wat in 1977 in Namibië gestig is. Hulle naam is intussen verander na die Popular Democratic Movement (PDM).

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.