Die Claude Larson Sangers het in Januarie 1972 in Kaapstad ontstaan, en is gestig met die doel om ook in Afrikaans gewilde popmusiek beskikbaar te stel. Claude Larson was die verhoog naam van die Duitser Klaus Netzle. Hy was ‘n internasionale plate produsent en musiekorganiseerder van ‘n televisie maatskappy in München, en het gereeld ander lande besoek om televisieopnames te maak van moderne, eiesoortige musiek van daardie lande. In 1970 het hy Suid-Afrika vir 3 maande besoek om ‘n musiek film te maak, en het hy kennis gemaak met die bekende sangpaar van Stellenbosch, Tony & Jan (Tony Osler en Jan Grové), en deur hulle bemiddeling het hy ook vir Norman Coates, Mynie Smit en Mandy Wilson ontmoet. Mynie is in Januarie 1972 met Jan Grové getroud en het daarna as Mynie Grové bekend geword, terwyl Mandy Wilson bekendheid verwerf het as Marloe Scott Wilson. Klaus was so beïndruk met die Kaap dat hy in September 1971 permanent daarheen verhuis het.
Hy het dadelik begin om ‘n musiekgroep saam te stel, maar Tony, Norman en Mandy het op daardie stadium reeds die groep Canticle gestig en was in Londen, Engeland, besig met opnames. Dit het hom egter nie verhinder om die Claude Larson Sangers met slegs Mynie en Jan op die been te bring nie, en kort daarna hy het ook vir Coetzee Nortjé (wat musiekorganiseerder by Kruik was) asook die studente Michele Maxwell, Louise Barron, Jessica Sherman en Mike Huff gewerf. Die groep se eerste opname was ‘n SAUK Transkripsie plaat, en hulle eerste kommersiële plaat was Jy Gee My Rose, wat beide in 1972 uitgereik is. Hulle het hierna minstens nog 3 langspeelplate, asook ‘n aantal solus sewes, uitgereik waarvan ek bewus is. Die Claude Larson Sangers het ook plate uitgereik onder ander name, bv. Die Ster Sangers en Karamel, en vier van die lede het opnames gemaak as Mistral. Soos dikwels gebeur het, het die groep se lede gereeld gewissel, en met tye was bekende persoonlikhede, soos Bobby Louw en Rene Veldsman, ook lede van die groep.
Die Claude Larson Sangers het in 1976 ontbind.
Hierdie liedjie is in 1974 op solus sewe, asook op die album “Ek Sien ‘n Stêr” uitgereik.
