Danie Pretorius – July koors

Daniel Johannes Pretorius is in 1915 op Vryburg gebore, en het as tiener reeds die viool en banjo bemeester. Na skool het hy by die polisie aangesluit, maar het later in Johannesburg op die goudmyne gaan werk. In die vroeë veertigerjare het hy teruggekeer na Vryburg om sy pa se steenmakery oor te neem, en het hy hom ook ernstig op musiek begin toespits, veral op die skryf van liedjies. Hy het egter eers bekendheid verwerf toe van sy liedjies in die vroeë 1950s deur AI Debbo, Nico Carstens en Jurie Ferreira opgeneem is, onder andere “Die Ou Kalahari” (ook bekend as “Ver In Die Ou Kalahari”). Die liedjie is oor die jare deur meer as 30 kunstenaars opgeneem, met Charles Jacobie se weergawe uit 1962 wat tot vandag toe sekerlik een van die bekendstes is. Selfs Jim Reeves het die liedjie tydens een van sy besoeke aan Suid-Afrika in Afrikaans opgeneem. Een van Danie se bekendste liedjies is sekerlik “Die Wilgerboom” wat in 1973 ‘n groot treffer vir Herbie en Spence was.

Hy was egter ‘n grapmaker van formaat en het baie komiese liedjies geskryf en ook self opgeneem, onder andere “”Elke Tweede Man Is ‘n Pretorius”, “’Die Hoender Of Die Eier” en “July Koors”. Fanus Rautenbach het ook gereeld van Danie se liedjies op sy program “Flink Uit Die Vere” gespeel. “Die Brakke Van Turffontein” was weer ‘n groot treffer vir Al Debbo, en “Hulle byt my” was ‘n treffer vir Worsie Visser.

Danie Pretorius is in 1972 op Vryburg oorlede.

Hierdie liedjie is in 1969 op die album “Die Ewige Treffers Van Danie Pretorius” vrygestel.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.