Kobus & Hannelie – Waarom

Jacobus de Witt is op 10 Oktober 1945 in Pretoria gebore en het skool gegaan aan Laerskool Menlopark en aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hierna het hy by die Universiteit van Pretoria ingeskryf om homself te kwalifiseer as ‘n geneesheer, en was hy ook een van die stigterslede van die Universiteitskoor. In 1968 het hy verskeie kursusse in koorleiding in Duitsland en Nederland bygewoon, en was vir altesaam 4 jaar lank lid van die koor.

Hannelie Bosman is op 19 November 1949 in Springs gebore. Haar pa was ‘n saaiboer in die Delmas-distrik. Sy het haar skoolloopbaan voltooi aan Laerskool Sundra, Hugenote Hoër Meisieskool in Springs en aan Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. Sy het vanaf die ouderdom van 8 reeds pryse en trofeë begin verower vanaf die Afrikaanse Kunsvereniging vir sang, en is op 13 aangewys as die beste sangeres tydens die Springs Musiekfees. Sy was saam met Rina Hugo op skool in Hugenote en hulle het altyd saam in die koor gesing en aan kunswedstryde en skoolkonserte deelgeneem.
Na skool het sy aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf vir ‘n BSc-graad in aptekerswese, was in 1968 een van die stigterslede van die Universiteitskoor en het selfs koor opleiding ontvang in Duitsland en Nederland. Dit was as lid van die koor dat sy vir Kobus de Witt ontmoet het.
Kobus en Hannelie het spontaan as duet paar begin saam sing tussen koor items en het later ook hulle eie konserte aangebied. Tydens een van hierdie geleenthede het Morkel van Tonder hulle gehoor en ‘n plate kontrak met Brigadiers aangebied. Hulle eerste langspeelplaat, “Kamma Kamma”, is in 1971 uitgereik en hulle het hierna nog twee plate vrygestel, “Ek En Jy” in 1972 en “Welkom Tuis” in 1974.

Nadat Hannelie ‘n pos as apteker by die destydse HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria aanvaar het, en Kobus by ‘n mediese praktyk in Vereeniging aangesluit het, het hulle paaie uiteengeloop, hoewel hulle albei in later jare betrokke was by die Ad Libitum-koor, Hannelie as lid van die koor en Kobus as dirigent.

Kobus het in 2000 na Kanada geëmigreer waar hy as mediese praktisyn in Saskatchewan gaan werk het, en Hannelie het later jare ‘n privaat besigheid vanaf haar huis in Pretoria bedryf. Ek weet egter nie waar die twee hulle deesdae bevind nie.

Hierdie liedjie is in 1971 deur mfp op die album “Kamma Kamma” uitgereik.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.