Groep Twee – Aan die einde van die dag

Gert van Tonder is op 29 Junie 1941 op Bergplaas, ‘n bosboustasie tussen George en Knysna, gebore en het na skool by die SAUK in Durban begin werk in die byklanke-afdeling. Sias Reinecke is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore, het sy skoolloopbaan voltooi aan Laerskool Rosettenville en aan Hoërskool Fakkel in Johannesburg, waarna hy vir twee jaar lank by die Spoorweë gewerk het. In 1962 het hy by die SAUK in Johannesburg aangesluit as assistent program bediener. Sias en Gert het mekaar in 1963 ontmoet toe Eric Eagan van Springbok Radio vir Sias saamgeneem Durban toe om te help met die uitsending van sy oggend program. Gert was op daardie stadium lid van die folk sanggroep “The Titans”, wat dikwels in die radioprogram “Om die kampvuur” opgetree het, en Sias was ‘n trekklavierspeler in ‘n boereorkes.

‘n Jaar later het die SAUK vir Gert Johannesburg toe verplaas en het die twee gereeld saam begin sing. Folk musiek was destyds baie gewild en hulle het toe in ‘n restaurant, “Dunk A Doughnut” in Hillbrow begin optree as “Folk Two”. Hulle het egter daaraan begin dink om Afrikaanse musiek te sing, en tydens hulle optrede in “Battle of the Beats” het Michael Mayer van Springbok Radio voorgestel dat hulle hulle naam verander na “Groep Twee”, na aanleiding van die groep, “Group One”, waarvan Lance James ‘n lid was tydens sy verblyf in Engeland. Mike Heine van Springbok Radio het hulle hierna na Golden Sound Promotions / Goue Klank Promosies verwys waar hulle ‘n plate kontrak aangebied is. Hulle eerste solus sewe is in 1967 uitgereik met “Die Oukraalliedjie” (It Ain’t Nobody’s Biz’ness What I Do) op die A-kant en “Die Padda Wou Gaan Opsit” (Froggy Went A Courtin”) op die B-kant. “Die Oukraalliedjie” het #3 op Springbok Radio se Top 20 bereik, en was vir 15 weke op die treffersparade.

In Januarie 1968 het Groep Twee Frankryk besoek waar hulle die verhoog van die Palais de Festival in Cannes gedeel het met internasionale kunstenaars soos Udo Jurgens, Tom Jones en Vera Lynn, en ook die Midem-trofee ontvang het as kunstenaars wat in daardie jaar die meeste plate in hulle land verkoop het. Groep Twee het verskeie albums in hierdie tyd uitgereik en was landwyd baie gewild. Ten spyte hiervan het Sias, ná Groep Twee se toer saam met die Günther Kallmann-koor in 1969, besluit om die Trebleaires te vorm saam met twee koorlede, Monika en Angelika Neuenfeldt, en het Gert noodgedwonge vir Eddie Trautman gevra om Groep Twee saam met hom voort te gaan. Na Eddie in ‘n motorongeluk oorlede is, het Gert en Sias in 1971 weer begin saam sing as Groep Twee. Sias het egter altyd daarna gehunker om ‘n solo kunstenaar te wees, en derhalwe het Gert en Sias se paaie in 1979 finaal geskei.

Groep Twee het twee Sarie-toekennings ontvang, een vir Beste Sanggroep in 1972 en die ander vir hulle langspeler “Laat My Weet” in 1975, en het drie Top 20 treffers gehad:

1. Die oukraalliedjie – 1967, #3, 15 weke
2. Daar’s niks soos ware liefde – 1971, #3, 18 weke
3. Dink jy darem nog aan my – 1972, #20, 1 week

Hierdie liedjie is vanaf die langspeler “Groep 2 Sing Nuut En Bekend” wat in 1969 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.