Jurie Ferreira met Nico Carstens & Sy Orkes – Die woudprinses

Johannes Jurgens Ferreira is op 3 Maart 1921 in Ventersdorp in die Noordwes Provinsie gebore. As kind het hy en sy tweelingbroer, Ben, gereeld saam met hulle pa, Jurie Ferreira Sr, gesing terwyl hy hulle op die kitaar begelei het. In 1936, as 15-jarige, het Jurie se pa hom Johannesburg toe geneem vir sy eerste stem opname en sy eerste plaat, waarop hy “Antjie” en “Vaalhoed Se Baas” saam met die orkes van Harta Smit sing, is in 1939 op die Tier-etiket uitgereik, hoewel hy nie hiervoor gekrediteer is nie.

In 1941 het hy by die orkes van Arnout Malherbe aangesluit en in 1945 geskuif na dié van Hendrik Susan. Hoewel Hendrik hom ‘n kontrak vir slegs 6 maande aangebied het, het hy uiteindelik vir sewe jaar by sy orkes gebly en in daardie tyd die land saam met hulle deurkruis. Hy het ook tussen 1949 en 1952 in verskeie rolprente saam met hulle verskyn, insluitend “Kom saam vanaand” (1949), “Hier’s ons weer” (1950), “Alles sal regkom” (1951) en “Altyd in my drome” (1952). In 1952 het Jurie by die orkes van Nico Carstens aangesluit en
Twee jaar later het hy sy eie orkes begin saam met, ander andere, Flippie van Vuuren, Dirkie Smit en Boet Pretorius.

In later jare het hy en sy groot vriend, Paul Robinson, ‘n dansklub in Pretoria begin, maar nadat ongewenste elemente moeilikheid in die klub gemaak het, was hulle verplig om dit te sluit. Dit het hierna maar broekskeur gegaan met Jurie en het hy, onder andere, by die brandweerstasie in Krugersdorp asook by ‘n Staatsdepartement gewerk. In 1965 het hy egter die geleentheid gekry om by die Leër orkes aan te sluit en het hy, benewens as sanger, ook bygedra deur die saxofoon, klarinet, kitaar en basviool te bespeel. Na nege jaar het hy oorgeskuif na die Weermag se vermaaklikheidsgroep en was hy ‘n lid hiervan tot en met sy aftrede in die middel van die 1980s. Hierna het hy in die Weermag se musiekbiblioteek gewerk, en in 1996 was hy die gaskunstenaar op die gewilde televisie musiek speletjie, Noot vir Noot.

Tydens sy loopbaan het Jurie letterlik honderde 78-spoed plate en solus sewes uitgereik, en het hy ook 40 langspeelplate opgeneem. Benewens solo opnames het hy ook saam met bekende kunstenaars soos Nico Carstens, Hanlie van Niekerk, Sylvia Faktor, Bennie Raubenheimer en Duffy Ravenscroft opnames gemaak.

Jurie is op 24 Junie 2002 in die ouderdom van 81 in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria oorlede na ’n lang siekbed. Hy sal egter altyd onthou word as “die man met die goue stem”.

Hierdie liedjie is vanaf die 10″ plaat “Lief En Leed” wat in 1959 uitgereik is.

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.