Die Mellotones – Tennessee wals

Die Mellotones (aanvanklik bekend as die Drie Mellotones) het bestaan uit Leonard “Len” Bobrow, Esky Jawitz en Al Mazin. Hulle het mekaar een aand op ‘n partytjie ontmoet, ‘n paar liedjies saam gesing en net daar besluit om ‘n sang trio te vorm. Hulle het in talle verskeidenheidskonserte opgetree, o.a. “Verskeidenheid Onder Die Sterre”, wat in Joubertpark in Johannesburg aangebied is. Hul het ook aan kabaret vertonings soos “A Spectacular With Alfred Marks” deelgeneem en is daar deur talent soekers ontdek. Esky het gewoonlik met die middelste melodie begin, waarna Len met die basstem en Al met die tenoorstem ingeval het. Die Mellotones het tydens hulle loopbaan hulle veelsydigheid bewys deur benewens Afrikaans en Engels ook gemaklik in Portugees, Italiaans, Spaans, Hebreeus, Grieks, Frans en selfs Zoeloe te sing. Hulle het gereeld in nagklubs in Johannesburg opgetree, insluitend by die baie bekende Ciro’s, en hulle musiek is ook deur nasionale radiostasies gespeel. Daarbenewens het hulle in die ou Johannesburgse Stadsaal saam met die SAUK Orkes olv Jos Cleber opgetree.

Hulle eerste langspeelplaat, “Getroue Kamerade”, is in Oktober 1960 as die Drie Mellotones saam met Dan Hill en sy Orkes uitgereik en het hoofsaaklik Engelse treffers bevat wat deur Anton de Waal en Louis Combrink verwerk en vertaal is na Afrikaans. Hulle opvolg album, “‘n Happie Van My Appeltjie”, is in 1961 uitgereik. Hierop sing hulle ‘n aantal nuwe liedjies van bekende komponiste soos Anton De Waal, Nico Carstens, Charles Segal, George Esaul, Gilbert Gibson, Louis Combrink, Neels Steyn en Chris Du Toit, terwyl die res van die album ou gevestigde Afrikaanse liedjies bevat wat hulle ‘n vars nuwe klank gegee het.

Later daardie jaar het die Turkse ster, Silva Bera, Die Mellotones gebruik om die agtergrond sang op haar album, “A Cosmoplitan Night”, te lewer, en in 1963 is hulle eerste solus-sewe opgeneem en nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Brittanje, Amerika, Kanada, Nieu Seeland, Japan en Griekeland uitgereik. Vir hulle volgende langspeelplaat, “Sam’s Music Men”, wat in 1963 uitgereik is, het die bariton Ben (sy van is ongelukkig onbekend) by hulle aangesluit, met musiek wat verskaf is deur Sam Sklair se orkes, en met Maureen Donne wat ook ‘n bydrae gelewer het. Esky Jawitz het die groep aan die begin van 1964 verlaat voordat hulle volgende langspeelplaat, “Die Beste Van die Weste” opgeneem en uitgereik is. Nadat hulle nog twee solus-sewes die lig laat sien het, het Ben die trio verlaat en is vervang deur Daphne Rees, en hulle laaste langspeler, “I Like It This Way”, met twaalf internasionale ligte klassieke treffers, is in 1966 uitgereik. Nadat hulle in 1968 en in 1970 nog twee solus sewes vrygestel het, het die groep van die musiektoneel verdwyn.

Al Mazin was ‘n klere ontwerper van beroep, terwyl Len Bobrow ‘n veld bestuurder by ‘n groot farmaseutiese maatskappy was. Daphne Rees was aanvanklik ‘n tikster by ‘n mynmaatskappy en in later jare ‘n omroepster by die SAUK.

Hierdie liedjie is vanaf die album “Die Beste Uit Die Weste” wat in 1964 uitgereik is.

BAIE DANKIE AAN MARIUS DE VOS VIR DIE BIOGRAFIE!

(Visited 1 times, 1 visits today)

You might be interested in

Post A Comment For The Creator:

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.