Die Bats – Groen en goud
Die Bats is in Oktober 1964 gestig deur:
1. Eddie Eckstein – tromme, sanger
2. Barry Jarman – kitaar, trompet, konsertina, verskeie ander instrumente
3. Jimmy Dunning - kitaar
4. Paul Ditchfield – baskitaar, klawerbord, sanger
Klaarblyklik het hulle onder mekaar gestry oor wat die naam van die groep moet wees, toe die voormalige bestuurder van hulle platemaatskappy, Matt Mann, vir hulle gesê het “you’re all bats”, bedoelende dat hulle gek is, en so het die naam dan ontstaan. Hulle eerste solus sewe “All I Got” is in 1964 uitgereik, asook hulle eerste album met dieselfde titel. In Desember 1964 het hulle vir Dusty Springfield ondersteun tydens haar Suid-Afrikaanse toer.
Hulle eerste Suid-Afrikaanse Top 20 treffer was “Shabby Little Hut” wat in 1965 die #3-posisie bereik het, en vir 8 weke op die treffersparade was. Hulle het ook later daardie jaar ‘n album met dieselfde titel uitgereik. Ook in 1965 het hulle Springbok Radio se “Battle of the Beats” gewen, en het hulle liedjie “That’s How I Feel” die #13-posisie op die SA Top 20 bereik, en was dit vir 9 weke op die treffersparade.
In April 1966 het hulle na Engeland vertrek waar hulle vir 18 maande saam met baie bekende kunstenaars, soos Cat Stevens, Dusty Psringfield, The Troggs, The Kinks, The Zombies en The Mindbenders opgetree het, en het ook op Britse televisie verskyn. Hulle het in September 1967 na Suid-Afrika teruggekeer, en het tussen 1968 en 1970 nog vier SA Top 20 treffers gehad. In 1970 het hulle ‘n SARIE-toekenning ontvang vir “Who’s That Girl” wat as liedjie van die jaar aangewys is.
In 1971 het hulle besluit om hulle naam te verander na Impi, en het hulle meer etniese klanke aangeneem, en het ook ‘n album met dieselfde titel uitgereik, maar die jaar daarna het hulle teruggekeer na die meer bekende naam en klanke van die Bats.
Die Bats het ses SA Top 20 treffers gehad:
1. Shabby little hut – 1965, #3, 8 weke
2. That's how I feel – 1965, #13, 9 weke
3. Groen en goud – 1968, #7, 9 weke
4. Weltevrede Stasie – 1968, #15, 6 weke
5. Who's that girl? – 1969, #6, 10 weke
6. Rebecca Stein – 1970, #17, 3 weke
Die Bats het in 1981 opgebreek, maar het in 2000 weer bymekaar gekom, en tree nog steeds op, hoewel Paul Ditchfield reeds 80 jaar oud is, en Eddie Eckstein later vanjaar 80 sal word.



